Links

Meer oor Paraguay

Paraguay lê in die suidelike halfrond, min of meer in lyn met Suid Afrika is  406,752 km2  groot en is geheel en al binnelands. Die seisoene is dus dieselfde, maar dit reën heelwat meer, en is ook warmer. Dit grens aan Argentinië na die suide, Bolivië na die noorde, en Brazilië na die ooste. Dit het ongeveer 7 miljoen inwoners, en die amptelike tale is Spaans en Guarani, wat ook die naam van die Paraguay geldeenheid is.

Paraguay het op 14 Mei 1811 onafhanklik geword van Spanje. Die hoofstad is Asuncion, geleë op die walle van die Paraguayrivier, en het ongeveer 550,000 inwoners.  Ander belangrike stede is Ciudad Del Este, op die grens met Brasilië, en Encarnacion op die grens met Argentinië.

Die land bestaan uit twee hoofstreke, die ooste en die Chaco. Die ooste het ‘n hoër reënval, is meer ontwikkel en is baie meer dig bewoon. Die Chaco word baie warm en slegs ongeveer 10% van Paraguay se inwoners is daar gevestig.

Tot in 1989 was Paraguay hoofsaaklik onder regering van diktators, en daarna het ‘n ontstuimige oorgang na demokrasie gevolg. Gedurende die diktatoriale tydperk was die land baie afgesonder en het nie veel ontwikkeling plaasgevind nie. Sedertdien onwikkel dit met rasse skrede, en handhaaf tans een van die hoogste ekonomiese groeikoerse in Suid-Amerika. Veral die afgelope 5 jaar is gekenmerk deur geweldige vooruitgang in industrialisasie en infrastruktuurontwikkeling. Inflasie is baie laag en so ook werkloosheid. Ten spyte daarvan is ‘n groot persentasie van die inwoners steeds in armoede.

In veral die Chaco is Duitse kolonies wat sorg dat die streek besig is om sy agterstand met betrekking tot ontwikkeling in te haal. Paraguay het naas Duitsland die tweede beste landboukooperasiestelsel ter wêreld.  Dit het dan ook meegebring dat hulle tans beskou word as die 6de grootste uitvoerder van beesvleis, en die 3de grootste van soja. Daar word egter ook geboer met omtrent elke moontlike komoditeit, selfs sywurms.  As gevolg van die gunstige klimaar is dit vir saaiboere moontlik om 5 oeste in ‘n 2 jaar siklus te doen.  Drakrag van weiding is ook baie goed, en selfs 1 bees per hektaar is heeltemal haalbaar sonder besproeiing. Videos (in Spaans) oor boerdery in Paraguay is beskikbaar by https://www.youtube.com/user/ABCRURAL2011/videos  en ook by https://www.youtube.com/channel/UCD5U_mu1JP2Sz7n58ck7bBg/videos

Nadat hy in 2013 aan bewind gekom het, het die Paraguayse president Horacio Cartes sy land se laer produksiekoste en sy nabyheid aan Brasilië en Argentinië gebruik as aansporing om vervaardigingsmaatskappye van die twee plaaslike swaargewigte te lok. Alhoewel ‘n volwaardige lid van die gemeenskaplike mark van die suide (Mercosur), het Paraguay nie altyd goeie verhoudinge met sy plaaslike handelsvennote geniet nie.

Cartes se eerste taak was gevolglik om die bande met Brasilië en Argentinië te normaliseer. Gelukkig vir Paraguay, het Brasilië en Argentinië Cartes se oorwinning in die 2013 verkiesing vinnig aanvaar. Die twee lande het ook gevra vir die herstel van Paraguay na Mercosur, en Paraguay het binne enkele maande na die verkiesing weer normaal binne die alliansie gefunksioneer. Na sy normalisering het Cartes sy aandag daarop gevestig om Paraguay as ‘n industriële hub te vestig deur die Brasiliaanse en Argentynse vervaardigers van tekstiele, speelgoed, plastiekprodukte, motoronderdele en ander goedere te oortuig om te verhuis na die land. Die president het veral maatskappye geteiken wat sukkel om internasionaal teen Chinese invoer te kompeteer. Die aanbod van Paraguay was ook aantreklik vir ander Brasiliaanse en Argentynse maatskappye.

Volgende keer, meer oor Suid-Afrikaners in Paraguay, asook hoe gemaak om daar te gaan woon en werk. Sluit intussen aan by ons snelgroeiende groep   https://www.facebook.com/groups/767365679993987/?ref=group_header